Die Provinsiale Speurtak in Bloemfontein is op soek na ʼn 19-jarige man wat vroeër in verband met misdade in 2012 in hegtenis geneem en toe weer vrygelaat is.
“Die verdagte en drie medepligtiges het glo in 2012 by ʼn huis in Bloemfontein ingebreek en na bewering van die inwoners in die huis verkrag, aangerand en beroof,” het konst. Peter Kareli, woordvoerder van die polisie, aan Maroela Media gesê. Die voorval het reeds in 2012 plaasgevind.
“Thamsangqa Dicson Mbaba was minderjarig tydens die voorval,” het Kareli gesê. “Hy en die drie medebeskuldigdes is deur die polisie in hegtenis geneem. Mbaba is later op borgtog vrygelaat, aangesien hy minderjarig is. Die ander drie is steeds in die polisie se aanhouding.”
Kareli het gesê deel van Mbaba se borgtogvoorwaardes was om al die hofverrigtinge by te woon, maar hy het versuim om dit te doen en ʼn lasbrief vir sy inhegtenisname is uitgereik.
Kareli versoek enigiemand wat weet waar Mbaba hom mag bevind om kapt. Paseka Mojaki by 082 553 1639 of 051 507 6619 te skakel.