Die Suid-Afrikaanse polisie staan die Amerikaanse forensiese ondersoekbeamptes wat spesiaal deur die moord-beskuldigde Oscar Pistorius aangestel is om vir sy verdediging voor te berei, by in hul ondersoek.
Lt. genl. Solomon Makgale, ʼn polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê Pistorius se huis in die ooste van Pretoria is nie meer ʼn moordtoneel nie. Pistorius word daarvan verdink dat hy sy meisie, die model Reeva Steenkamp, met voorbedagte rade daar doodgeskiet het op Valentynsdag vanjaar. Hy voer egter aan dat hy haar as ʼn misdadiger aangesien het.
Makgale het gesê Pistorius se ondersoekbeamptes het sy huis Maandag besoek. Hulle het vooraf reëlings met die polisie getref. “Die rede vir hul besoek was om toegang tot die badkamerdeur te verkry en om die misdaadtoneel te rekonstrueer.”
Die polisie se ondersoekbeampte asook ʼn ballistiese kenner van die polisie was teenwoordig.
Makgale het gesê Pistorius se span is later beheerde toegang tot alle bewysstukke gegun. “Pistorius se span het geen bewyse uit die polisie se stoorgeriewe geneem nie. Hulle is ook in geen stadium alleen gelos met enige van die bewysstukke nie,” het hy gesê.
“Volgens wet is die staat verplig om enige bewysstukke wat in sy besit is, aan beskuldigdes te verskaf as hulle dit versoek. Dit laat die beskuldigdes toe om vir hul verdediging voor te berei.”
Ek dink die opskrif is misleidend. Deur te se Pistorius se span word bygestaan impliseer dat hulle ‘gehelp’ word. Miskien moes die opskrif gelui het: ‘Pistorius se regspan word toegang tot bewysstukke verleen’.
Stem Erich …. dit klink so of ons ouens ‘slim’ is en opleiding verskaf!