Polisie stuit proteskonvooi teen tolstelsel

Die foto is deur @djvanman op Twitter gelaai.

Die beplande betoging deur die Vryheidsfront Plus oor die Gautengse tolstelsel is Donderdag onwettig verklaar omdat die groep nie toestemming het om te betoog nie.

“Die polisie en metropolisie het hierdie byeenkoms onwettig verklaar en sê ons moet in die toekoms deur hulle kanale gaan,” het Anton Alberts, woordvoerder van die VF+, gesê. “Ons standpunt is dat hierdie nie ‘n onwettige byeenkoms is nie. Dis is ‘n spontane saamkoms van mense wat teen die tolstelsel gekant is, en ons sou net met gewone motors agter mekaar ry op Johannesburg se paaie.” ‘n Kameel, karavane, motorfietsryers en ander voertuie het tydens spitsverkeer en in die reën by die Ultra City op die snelweg byeengekom vir die betoging. Johann van der Merwe, ook bekend as “Mal Jan” van Jacaranda 94.2 se ontbytprogram, het op die rug van ʼn kameel by die vulstasie opgedaag. Die betoging is deur die VF+, die Nasionale Belastingbetalersunie (NBU), die SA Karavaanvereniging en verskeie motorfietsklubs gereël. Die optog was geskeduleer om 07:00 te begin. Alberts sê die optog sal nie voortgaan soos beplan nie en deelnemers sal terugkeer werk toe. ‘n Argument oor die betoging het tussen Alberts en die polisie ontstaan. “Ons het verskillende sienings van die wet,” het Alberts gesê. “Ons is baie ongelukkig hieroor, want die oorregulasie in hierdie land het ‘n punt bereik waar mense se grondwetlike regte, soos ons dit sien, geskend word,” het Alberts gesê. Alberts sê die groep het oorweeg om voort te gaan met die betoging, al word hulle in hegtenis geneem. “Ek dink nie hulle sou ons in hegtenis geneem het nie, want hulle was nogals bang daarvoor, maar ons het besluit om nie te veel moeilikheid te maak nie.” Hy het bygevoeg dat hulle ‘n optog in die toekoms sal hou.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.