Polisie vang 12 ná besigheidsroof

Puik speurwerk van die Noordwes-polisie het daartoe gelei dat 12 verdagtes Maandag etlike ure ná ʼn besigheidsroof in hegtenis geneem is.

“Die Rustenburgse hoofwegpolisie en Phokeng-polisie het ʼn klagte ontvang van ʼn besigheidsroof in Boshoek,” het kapt. Amanda Funani, ʼn polisiewoordvoerder, gesê. Die verdagtes het na bewering veiligheidswagte aangeval en beseer voor hulle met die gesteelde goedere en twee Nissan-bakkies van die toneel gevlug het.

Die beamptes het dadelik op die oproep reageer en ʼn grootskaalse soektog is van stapel gestuur. Die polisie het op een van die voertuie in die omgewing afgekom met sewe insittendes. Die mans in die bakkie het die beskrywing van die verdagtes gepas. Die polisie het die voertuig deursoek en op twee vuurwapens beslag gelê.

Die tweede bakkie is op die R565-pad tussen Phokeng en Sun City opgemerk. “Die bestuurder het die polisie gesien, ʼn U-draai op die pad gemaak en probeer wegjaag. Die polisie het hulle na ʼn jaagtog afgetrek en die res van die verdagtes in hegtenis geneem.”

Die verdagtes is tussen die ouderdom van 21 en 46 jaar. Hulle moet Dinsdag in die Tlhabane-landdroshof verskyn op aanklagte van besigheidsroof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens. Vyf van die verdagtes is glo immigrante van Mosambiek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.