Polisie verdedig gewelddadige optrede by Lonmin

Foto: Taurai Maduna/EWN


Die departement van gesondheid in Noordwes het Vrydagoggend ʼn voorlopige dodetal bekendgemaak na gister se skietery by Lonmin se Marikana-myn naby Rustenburg.

“Die dodetal staan tans op 25,” sê Tebogo Lekgethwane, woordvoerder van die departement. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het intussen gesê hy het geen ander keuse gehad as om geweld te gebruik by Lonmin se Marikana-myn nie. “Die SAPD is wreedaardig deur die groep stakende mynwerkers, wat verskeie wapens waaronder vuurwapens by hulle gehad het, aangeval,” het kapt. Dennis Adriao, ʼn polisiewoordvoerder, in ʼn verklaring gesê. Adriao sê die polisie moes geweld gebruik om hulle eie lewens te beskerm en in selfverdediging. Die geweld het net na 16:00 gistermiddag uitgebreek toe die oproeriges met pangas en assegaaie op die polisie afgestorm het waarop die polisie begin skiet het. Hy sê die geweld volg op uitgebreide en onsuksesvolle onderhandelinge met die groep stakende mynwerkers deur die polisie. Minstens 10 ander mense, insluitend twee polisiebeamptes, is vroeër die week in die geweld dood.

Adriao sê die onafhanklike polisie-ondersoek­direktoraat (Opod) is op die toneel om die voorval te ondersoek. Riah Phiyega, die nasionale polisiehoof, en ander senior bestuurslede het gisteraand na die toneel gehaas en sal later vandag ʼn mediakonferensie hou by Lonmin se opleidingsentrum.

Die geweld is intussen wyd veroordeel deur verskeie politieke partye en ander organisasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willem Frost ·

Het hierdie voorval nou in die dae van die ou regering plaasgevind, sou die saak sekerlik in die VVO gedraai het as n voorbeeld van die wrede onderdrukking deur die apartheidsregime. Nou kan ek maar net vir die ANC regime sê: “kry vir julle!”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.