ʼn Bejaarde man is Woensdag van R8 000 beroof by die Lenasia-winkelsentrum in Gauteng nadat rowers hom met ʼn skelmstreek in hulle motor gekry het.
ʼn Polisiewoordvoerder, Kay Makhubele, sê die rowers het ʼn pak met geld op die grond neergesit waarna dit deur die 66-jarige man opgetel is wat gedink het iemand het dit verloor. Hy sê ʼn groen motor het langs die bejaarde man stilgehou en die insittendes van die motor het hom daarvan beskuldig dat hy die geld gesteel het. Hulle het aangedring dat hy in die motor klim sodat hulle na die naaste polisiekantoor kan ry om die situasie uit te sorteer. Makhubele sê hulle het die man na ʼn veld geneem waar hulle hom van R4 000 beroof het wat hy kort tevore getrek het. Hulle het ook ʼn verdere R4 000 uit die man se bankrekening onttrek. Makhubele sê dit is die derde voorval in die afgelope paar weke. Die polisie ondersoek die voorval.