Polisie weerhou nog naam van boer wat selfmoord pleeg

Flippie Engelbrecht en sy ma

Flippie Engelbrecht en sy ma

Die polisie van die Wes-Kaap weier nog om die naam van ʼn boer bekend te maak wat Dinsdagoggend selfmoord op sy plaas naby Ashton gepleeg het.

Maroela Media het vroeër berig Johnny Burger, ʼn boer en eienaar van die plaas Rietvallei buite Robertson, wat daarvan beskuldig is dat hy ʼn werknemer, Flippie Engelbrecht (19), só aangerand het dat hy blind en met epilepsie gelaat is, het glo Dinsdagoggend selfmoord gepleeg.

Engelbrecht was 15 jaar oud toe hy en sy pa glo in Januarie 2010 aangeval is. Tydens die vermeende aanval het sy kop glo ʼn wyntenk getref en hy is later blind gelaat en het epileptiese toevalle begin kry. Engelbrecht het gebrand toe hy tydens ʼn epileptiese toeval in ʼn vuur beland het en albei sy hande moes daarna geamputeer word.

Lt.kol. André Traut het Dinsdag aan Maroela Media gesê die polisie kan bevestig dat hulle ʼn geregtelike doodsondersoek doen nadat die liggaam van ʼn 62-jarige man op sy plaas naby Ashton gevind is. “ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat die persoon verantwoordelik was vir sy eie dood, maar die voorval word nog deeglik ondersoek. Die polisie gaan nie in die stadium die slagoffer se naam bekend maak nie,” het Traut gesê.

Burger (62) en sy plaasbestuurder, Wilhelm (Dozi) Treur­nicht (35), het in Augustus in die Ashton-hof verskyn en staan tereg op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die aanklagte hou verband met ’n beweerde aanval op Engelbrecht. Hulle het die aanklag teen hulle ontken. Die verhoor is destyds tot 13 September uitgestel.

Tydens Burger en Treurnicht se verhoor in Augustus het ʼn groep skare buite die hof op Burger se bakkie ge­klim en ander het om die voer­tuig saamgedrom en klippe na die bakkie gegooi. Die polisie moes die twee beskuldigdes te beskerm. Die groep mense het aangevoer hulle kry voorkeurbehandeling omdat hulle wit is en dat hulle met plaaswerkers maak net wat hulle wil.

Lees ook:
Boer wat glo tiener op plaas aanrand pleeg selfmoord
Video: Boer moet hof toe na hy glo werker aanval

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SwartMag ·

Ek hoop hier op Maroela het iemand wat nie noodwendig met ander op die forum saamstem nie darem sy reg tot vryheid van spraak. Op ander forums soos Praag word net kommentaar geplaas wat by hulle denke pas. Ander, soos my kommentaar word nie geplaas nie. Skandelik.
Die boer se gewete het hom aangekla, skuldig bevind en gevonnis. Sou u saam met my stelling stem?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.