
Chanelle Henning en haar seuntjie Benjamin. Henning is Dinsdag doodgeskiet nadat sy haar seuntjie by die kleuterskool afgelaai het. Foto: Facebook
Chanelle Henning (26) is kort nadat sy haar 5-jarige seun Benjamin by ʼn kleuterskool in Faerie Glen afgelaai het deur twee mans op ʼn motorfiets doodgeskiet. Die motorfiets het verby haar motor gery toe die passasier op die motorfiets glo talle skote afgevuur het. Henning, ʼn onderwyser by Woodhill-kollege, is glo in die long getref. Haar motor het ʼn paar honderd meter verder tot stilstand gekom nadat haar motor ʼn klip op die sypaadjie getref het. Volgens berigte het Henning vermoed sy word agtervolg. Henning is deur omstanders uit die motor getrek maar is deur paramedici op die toneel dood verklaar. ʼn Polisiewoordvoerder, ao. Duane Lightfoot, het Woensdagoggend aan Maroela Media gesê die ondersoekbeampte het talle nuwe wenke en leidrade van lede van die publiek ontvang. Hy sê daar is egter nog nie ʼn verdagte geïdentifiseer nie. Lightfoot het wel bevestig dat die ondersoekbeampte ʼn afspraak het met Henning se vervreemde man, Nico. Lightfoot sê daar is bewerings dat hulle in ʼn toesigstryd om Benjamin gewikkel was.
Enigiemand met inligting kan kapt. Peet van der Spuy bel by 082 565 9112.