Polisie wil lisensie met Dave Sheer Guns kanselleer

dave sheerDie polisie dreig om hul handeldryflisensie met die vuurwapenmaatskappy, Dave Sheer Guns, te staak.

Lt.genl. Solomon Makgale, ʼn woordvoerder van polisiekommissaris Riah Phiyega, het Woensdag gesê Phiyega het gevolglik ʼn brief aan die maatskappy gestuur, en genoem dat die maatskappy 30 dae het om hierop te reageer. Die brief is reeds op 16 Oktober gestuur.

Volgens Makgale volg die besluit weens die maatskappy se direkteur, Gareth de Nysschen, se beweerde versuim om te voldoen aan die bepalings van die lisensie asook die Vuurwapenwet.

De Nysschen is een van vyf mense wat betrokke is in ʼn hofgeding weens beweringe dat ammunisie by die Lenasia-weermagbasis gesteel is.

The Star het Woensdag berig dat die maatskappy se prokureur, Martin Hood, glo hierop in ʼn brief reageer het waarin hy aanvoer dat De Nysschen se verhoordatum nog nie bepaal is nie en dat die verdedigingspan nog nie die aanklagtestaat gesien het nie. “Ons kan dus nie sinvol reageer op Phiyega se aantygings nie,” het Hood in die brief gesê. Hy voer aan Phiyega se brief is vroegtydig en dalk ‘n poging om die vervolgingsproses vooruit te loop.

“Indien die polisie met die proses sou voortgaan sonder om die beweringe te ondersoek of selfs voor die hofgeding afgehandel is, het ons opdrag om ʼn interdik te bekom teen die polisiekommissaris in haar persoonlike- en verteenwoordigende kapasiteit,” het Hood gesê. Hy het ook gedreig dat Phiyega aanspreeklik gehou kan word vir dié moontlike hooggeregshofkostes.

De Nysschen, Efthimios Demis Karamitsos, algemene bestuurder by Dave Sheer Guns, ʼn soldaat en sy seun, Diphang en Thabang Motloung, en nog ʼn soldaat, Tebhoho Motaung, staan tereg op aanklagte van diefstal by die Lenasia-landdroshof.

Die aanklagte hou verband met die beweerde diefstal van 200 000 rondes ammunisie wat glo by die weermagbasis gesteel is, en aan ʼn Dave Sheer-vuurwapenwinkel verkoop is.

– SAPA

Lees ook:
‘Gesteelde’ weermag-ammunisie: Beskuldigdes in die hof
Klopjag op banke se transitomaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.