Polisie wil verkragtingsaak skik

Argieffoto

ʼn Man wat glo in ʼn polisiesel verkrag is nadat hy onregmatig in 2011 in Rustenburg in hegtenis geneem is, het die eerste ronde van sy eis van skadevergoeding teen die minister van polisie gewen, het Beeld Dinsdag berig.

Prokureurs vir die polisie het Maandag skikkingsamesprekings voorgestel, het die man se prokureur, Robert van Wyk, gesê. Die 46-jarige man van Brooklyn in Pretoria is glo twee keer onregmatig in hegtenis geneem vir dieselfde klag van mensehandel en in beide gevalle later onvoorwaardelik vrygelaat.

Tydens sy eerste aanhouding is hy saam met 20 ander mans in ʼn sel aangehou waar hy glo om die beurt verkrag is. Polisiebeamptes het glo nagelaat om hom te help.

Hy is die tweede keer in Koster, Noordwes, in hegtenis geneem, rof hanteer en vrygelaat.

Hy eis R150 000 vir die tweede inhegtenisneming, maar R90 000 is toegestaan. Kragtens die skikking, wat deur die Pretoriase hooggeregshof toegestaan is, moet die minister die R90 000 binne 30 dae aan die eiser uitbetaal vir die Koster-voorval. Ná die 30 dae sal die bedrag met rente betaalbaar wees.

Die man eis skadevergoeding van R940 000 vir die eerste inhegtenisneming en verkragting, maar die hof moet nog die omvang van die skade aanhoor. Volgens Van Wyk moet die eiser se bewerings dat sy mede-gevangenes hom geslaan en verkrag het nog aangehoor word. “Ons wag nog vir die uitslae van die verkragtingmonster van die Olivedale-kliniek waar hy behandel is. Ons moet ook nog die verslae van die sielkundiges, wat hom behandel het, bekom,” het hy gesê.

Lees ook:
Man dagvaar polisie vir onregmatige inhegtenisneming, verkragting

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Martie van graan ·

Hy moet glad nie skik nie, wys hulle wat kan gebeur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.