Polisiebeampte in hof wat glo betoger skiet

'n Vrou Maandag buite die hof. Foto: Werner Beukes /  SAPA

‘n Vrou Maandag buite die hof. Foto: Werner Beukes / SAPA

ʼn Polisieman wat daarvan verdink word dat hy verlede week ʼn betoger in Durban Deep doodgeskiet het, verskyn Dinsdag weer in die Roodepoortse landroshof waar hy na verwagting gaan aansoek doen om borgtog.

Die polisieman se naam mag nog nie bekend gemaak word nie, aangesien ʼn uitkenningsparade nog moet plaasvind. Hy het Maandag vir die eerste keer in die hof verskyn en die saak is tot vandag uitgestel. Honderde ontstoke inwoners het Maandag by die hof saamgedrom en die situasie was gespanne.

Hy is een van vier polisiebeamptes wat in hegtenis geneem is in verband met die skietery en word aangekla van moord en dwarsboming van die gereg. Die ander drie beamptes word slegs van dwarsboming van die gereg aangekla, aangesien hulle glo nie die saak aangemeld het nie.

Tshepo Babuseng (28) is vermoedelik deur die polisiebeampte doodgeskiet nadat inwoners van Durban Deep in Roodepoort verlede Donderdag paaie in die gebied met brandende bande en klippe versper het weens ʼn betoging oor huise. Betogers het glo op die polisebeampte se ongemerkte voertuig afgestorm en hy beweer hy moes waarskuwingskote vuur om die groep uit mekaar te dryf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.