Polisiebeampte se verplasing geweier weens “oorkonsentrasie” – Solidariteit

polisie 2Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) weier glo om ʼn kaptein van Gauteng na die Wes-Kaap te verplaas aangesien dit nie in lyn met die SAPD se rasteikens sal wees nie. Volgens Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke is die SAPD besig met ʼn groot maatskaplike manipulasieprogram waarvolgens ʼn persoon se ras bepaal in watter provinsie hy of sy mag werk. “Dit bewys tot watter uiterstes die staat bereid is om te gaan om Jimmy Manyi se oproep tot demografiese verskuiwing om “oorkonsentrasie” van ras in spesifieke provinsies te stop, te implementeer,” het Dirk Groenewald, hoof van die Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, Donderdag gesê.

Groenewald sê die sentrum gaan ʼn saak van onbillike diskriminasie na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) namens kapt. André van Niekerk verwys. Hy is sedert 1985 in diens van die SAPD en werk tans vir die Krugersdorp se blitspatrollie-eenheid in Gauteng.

“Van Niekerk het formeel aansoek gedoen om na Hermanus in die Wes-Kaap oorgeplaas te word. Die kantoor van die provinsiale kommissaris in Gauteng het die aansoek aanbeveel. Die kantoor van die provinsiale kommissaris in die Wes-Kaap het die aansoek egter afgekeur aangesien dit volgens die kommissaris ʼn negatiewe impak op die SAPD se rigiede toepassing van die rasteikens, wat op die nasionale rassedemografie geskoei is, sal hê. Van Niekerk het teen die beslissing geappelleer, maar sy versoek is weer afgekeur ondanks die feit dat ʼn maatskaplike werker van die polisie in ʼn verslag ook die oorplasing aanbeveel het. Die SAPD het klaarblyklik ’n beleid dat sy werknemers net in ʼn sekere provinsie, waar hul ras nie oorverteenwoordig is nie, mag bly as hulle vir die SAPD wil werk.”

Van Niekerk is in November 2010 ontslaan en Solidariteit het die saak namens hom hanteer. Die bedingingsraad vir die veiligheid- en sekuriteitsektor (SSSBC) het in 2011 beslis dat Van Niekerk se ontslag onbillik was. Die SAPD het egter nie die uitkoms aanvaar nie en ʼn hersieningsaansoek in die arbeidshof gebring. Die hersieningsaansoek is later teruggetrek en Van Niekerk is in ʼn skrywe meegedeel dat hy op 16 Julie 2013 heraangestel sal word.

Weens die finansiële druk wat Van Niekerk ervaar het as gevolg van sy onbillike ontslag moes hy amper al sy besittings, waaronder sy huis, verkoop. Sy vrou het ʼn werkgeleentheid in Hermanus gekry en hulle het gevolglik daarheen getrek. Nadat Van Niekerk heraangestel is, het hy formeel aansoek gedoen om na die Wes-Kaap oorgeplaas te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.