Polisiebeampte vas vir dood van KFC-rower

ʼn Polisiekaptein van die Pinetown-polisie wat verlede jaar glo ʼn rower tydens rooftog by ‘n KFC-kitskosrestaurant doodgeskiet het, is Woensdag vir moord in hegtenis geneem.

Dit volg nadat die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ʼn ondersoek van stapel gestuur het nadat dié kitskosrestaurant op 5 Oktober in New Germany, Durban beroof is. Konst. Ajith Krishinlall en sy kollega, konst. Jerome Ngoma, het op die rowers afgekom en ʼn oor-en-weer skietery het plaasgevind. Die onbekende aantal rowers was met outomatiese gewere gewapen. Krishinlall is in die voorval dood en Ngoma kritiek gewond.

Die kaptein het beweer hy het op die twee konstabels se noodoproep reageer, en hom na die toneel gehaas. Hy het glo ʼn verdagte opgespoor wat probeer vlug het. “Die kaptein het beweer die verdagte het op hom geskiet, en dat hy teruggeskiet het. Die ondersoek het egter bewys dat sy weergawe vals was,” het Moses Dlamini, Opod se woordvoerder, gesê.

Die kaptein moet binnekort in die Pinetown-landdroshof verskyn. Hy word ook van dwarsboming van die gereg aangekla. Sy naam mag nog nie bekend gemaak word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.