Polisiebeampte vermoor in Alberton

Die polisie is op soek na twee verdagtes wat Donderdagmiddag ʼn polisiebeampte in Alrode in Alberton doodgeskiet het.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, sê die 45-jarige polisiebeampte het in ʼn voertuig gesit en vir sy kollega gewag wat ʼn verklaring afgeneem het by ʼn vervoermaatskappy in Botaxstraat. Dlamini sê twee mans het glo by die maatskappy se perseel aangekom en ʼn veiligheidswag geïntimideer. “Hulle het die polisieman genader terwyl hy besig was om met ʼn werknemer van die maatskappy te gesels. Terwyl hulle nadergestap het, het een van die verdagtes ʼn pistool uitgeruk en ʼn skoot afgevuur.” Dlamini sê die polisiebeampte is in sy bolyf getref en is op die toneel dood. Hy sê die verdagtes het op die vlug geslaan in ʼn grys Ford Focus wat buite die perseel se hek geparkeer was. Dlamini sê die moetief vir die aanval is nog nie duidelik nie. Hy sê die polisie vermoed egter dat die verdagtes moontlik die maatskappy wou beroof. Die beampte se kollega is nie beseer nie maar was erg geskok toe hy verneem het dat sy kollega doodgeskiet is. Die polisie ondersoek die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.