Polisiebeamptes betrokke in Winnie-onderonsie, strafregtelik vervolg

Dr Dirk Hermann, ʼn adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, saam met ao. Jannie Odendaal.

Die twee polisiebeamptes wat in ʼn onderonsie met Winnie Madikizela-Mandela en haar lyfwagte betrokke was, gaan strafregtelik vervolg word.

Beeld berig die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het bekendgemaak dat direkteur van openbare vervolging besluit het om ao. Jannie Odendaal en sy kollega konst. Abel Twala te vervolg. Madikizela-Mandela en haar lyfwagte was glo in ʼn onderonsie betrokke met Odendaal en Twala in Desember verlede jaar. Die beamptes het glo Madikizela-Mandela se motor afgetrek nadat dit volgens hulle roekeloos en teen ʼn hoë spoed deur die verkeer gevleg het. Die beamptes het ook beweer dat hulle deur Madikizela-Mandela se lyfwagte aangerand is. Die lyfwagte het op hul beurt beweer hulle is deur die polisiebeamptes aangerand. Madikizela-Mandela het na die voorval klagte van intimidasie teen die beamptes aanhangig gemaak. Odendaal het op sy beurt klagte teen Madikizela-Mandela aanhangig gemaak. Die klagtes teen Madikizela-Mandela en haar lyfwagte is egter laat vaar. ʼn Adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, Dirk Hermann, sê hy is teleurgesteld dat die NVG besluit het om Odendaal ten Twala te vervolg. Hermann sê egter dit is goed die saak nou hof toe gaan sodat die waarheid kan uitkom. Solidariteit verteenwoordig Odendaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.