Polisiebeamptes was moontlik betrokke by verlede week se insident waartydens ‘n polisievangwa tydens ʼn mislukte ontsnappingspoging opgeblaas is.
Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het Vrydag gesê ondersoek is steeds onderweg, maar daar is vasgestel dat polisiebeamptes by die voorval betrokke was en die ploftoestel ingesmokkel het.
“Ons kan in die stadium nie meer inligting bekend maak nie. Die beamptes sal binnekort in hegtenis geneem word,” het Moses Dlamini, Opod se woordvoerder, gesê.
Maroela Media het vroeër berig drie gevangenes is dood en 14 beseer tydens die voorval. Die vangwa het gevangenes van ʼn hof in Randburg terug na die Johannesburg Sentraal-gevangenis (ook bekend as Sun City) vervoer toe die ontploffing plaasgevind het. Dan Mabone, Ephraim Moyo, James Motsiti en Raymond Moyo het verlede Vrydag in verband met die voorval in die hof verskyn. Hulle word aangekla van moord, poging tot moord, ontsnapping, besit van plofstof en opsetlike saakbeskadiging. Al vier mans het voor die voorval tereggestaan op aanklagte van roof.