Polisiebeamptes sterf in ontploffing op Limpopo-snelweg

polisie 2Vier polisiebeamptes en ʼn vragmotorbestuurder is dood toe ʼn vragmotor Donderdag in die vroeë oggendure ná ʼn ongeluk op die N1-deurpad tussen Mokopane en Polokwane in Limpopo ontplof het.

Volgens Santi Steinmann, ʼn woordvoerder van Netcare 911, het die ongeluk omstreeks 01:00 sowat 30km suid van Polokwane (Pietersburg) plaasgevind.

Kol. Ronel Otto, ʼn polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat die vragmotor wat ontplof het, moontlik springstof, wat by myne gebruik word, vervoer het.

“Een van die vragmotors het die ander vragmotor, wat die springstof vervoer het, van agter getref,” het Otto gesê. “Ons lede was op die ongelukstoneel toe die vragmotor met die springstof aan die brand geslaan en ontplof het,” het Otto gesê.

Sy sê die vier beamptes is op slag dood en drie ander is ernstig beseer.

“Die bestuurder van die vragmotor wat in die vragmotor met die springstof vasgery het, is ook in die voorval dood. Dit is nog nie duidelik of hy weens die impak of die ontploffing gesterf het nie.”

Volgens Otto is drie voertuie ook in die ontploffing beskadig. Die bestuurders van dié voertuie het slegs geringe beserings opgedoen, maar is na ʼn hospitaal geneem vir waarneming.

Sy het gesê die hoofweg tussen Mokopane (Potgietersrus) en Polokwane is vir verkeer gesluit, en sal vir ʼn geruime tyd gesluit bly weens die skade aan die padoppervlak. Forensiese kenners en speurders is ook op die toneel om die voorval te ondersoek.

Otto het motoriste aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.