Twaalf polisiebeamptes sal vandag in die Durban landdroshof verskyn op aanklag van moord en rampokkery.
Die polisiebeamptes is Woensdag in hegtenis geneem en sal vandag om borg aansoek doen. Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) sê 10 polisiebeamptes is in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem, een in Rustenburg en een in Pretoria. Moses Dlamini, woordvoerder van Opod, sê die beamptes is glo deel van die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad by Cato Manor wat daarvan verdink word dat hulle soos ʼn moordbende opgetree het. In Junie is 18 polisiebeamptes van die eenheid in hegtenis geneem op 71 aanklagte, waaronder 14 van moord. Hulle is vroeër op borg van R5 000 elk vrygelaat. Die polisiebeamptes het glo eerder mense doodgeskiet as om hulle voor die gereg te bring.