Johannesburg – Twee polisiebeamptes, wat aan die Loate-speurdienste noord van Pretoria verbonde is, is Woensdag in hegtenis geneem ná ‘n ondersoek deur die Valke in Gauteng, het kapt. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, gesê.
Sy het gesê ondersoekers het laat Dinsdagaand en vroeg Woensdagoggend twee huise deursoek en op 126 dossiere en 12 bundels bewysstukke afgekom in ‘n gereedskaphouer buite een van die huise.
“Die Valke het inligting oor die dossiere, wat deur beamptes by hul huise gehou is, ontvang.”
Twee vroulike beamptes, onderskeidelik 40 en 41 jaar oud, is in hegtenis geneem.
“Die ondersoek duur voort en daar is ‘n moontlikheid dat nog inhegtenisnemings kan volg,” het Mogale gesê.