Polisiebetoging kan 10111 beïnvloed

Nagenoeg 42 000 lede van die polisievakbond Popcru gaan Woensdagoggend in agt provinsies betoog oor onder meer verskille in salarisvlakke.

Administratiewe personeel, waaronder operateurs van die noodoproepsentrum 10111 en klerke van polisiestasies, neem aan die protesaksie deel.

Theto Mahlakoana, Popcru se woordvoerder, het gesê lede van al die provinsies, behalwe Mpumalanga, gaan betoog.

Die lede eis onder andere dat die polisie ʼn ooreenkoms respekteer om hul salarissevlakke aan te pas, en afsonderlike loopbaanbeplanning vir operasionele en administratiewe personeel.

Hoewel daar wydverspreide kommer is dat die staking die polisie se noodoproepsentrum kan beïnvloed, het brigadier Phuti Setati, ʼn polisiewoordvoerder, gesê daar is nie rede vir die publiek om paniekbevange te raak nie.

“Gebeurlikheidsplanne is in plek. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) beskou die betoging as ʼn onbeskermde staking en die lede wat daaraan gaan deelneem sal dissiplinêre aksie in die gesig staar,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.