Polisiekaptein vas vir vuurwapen-verkope

‘n Taurus .357 Magnum. Argieffoto

ʼn Polisiekaptein van Nelspruit is in hegtenis geneem op ʼn aanklag van die onwettige verkope van vuurwapens, het Beeld Woensdag berig.

Bykomende aanklagte van korrupsie en diefstal is ook teen kaptein Godfrey Lubisi (57) gemaak. Hy is na ʼn jaarlange ondersoek by sy werkplek in hegtenis geneem. Die ondersoek is van stapel gestuur na dit aan die lig gekom het dat vuurwapens vir so min as R2 000 by die Nelspruit-polisiestasie verkoop word.

Lubisi het na bewering ʼn .22 geweer, wat ʼn versamelingsitem van 1925 is, in Januarie aan ʼn inwoner verkoop. Die inwoner het nagenoeg R2 000 vir die geweer opgedok en die kaptein het glo ook ingestem om ʼn vuurwapenlisensie daarvoor te verskaf.

Die ondersoek is vertraag omdat niemand glo teen die kaptein wou getuig nie, maar nuwe inligting het twee weke gelede vorendag gekom toe Lubisi glo ʼn Taurus .357 Magnum-rewolwer ook vir R2 000 verkoop het. Die polisie het Dinsdag ʼn groot hoeveelheid vuurwapenlisensies, wat nog van die polisiestasie verhaal moes word, onder Lubisi se voertuig se sitplek gevind.

Brig. Selvy Mohlala, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê die polisie gaan borgtog teenstaan.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stoere Boer ·

Ai maar ons het ‘n wondelike polisiemag. (Jammer vir die paar eerlikes) Ons sit met kriminele rekords, moor, roof en verkrag en dan voorsien ons sommer wapens aan die kriminele. Red ‘n nasie met so ‘n spul korrupte lede.

Kaspaas Breekwater ·

Moet beslis weer apartheid se skuld wees. Die verlede kry mos die skuld vir alles.

Lammie Treurnich ·

Dit is maar ‘n druppel in die emmer, Daar tientalle wat erger dinge aan vang wat nie aan die publiek bekend is nie en wat nie vervolg word nie. Die polisiemag is beslis nie ‘n voorbeeld om na te volg nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.