Polisielid hof toe oor naamskending

Die hoof van die polisie se forensiesewetenskap-laboratorium het drie beamptes, met laer range, van naamskending aangekla.

Die City Press het Sondag berig dié beamptes het glo die fluitjie geblaas oor beweerde korrupsie en wanbestuur onder lt.gen. Johannes Phahlane se leiding. Phahlane dagvaar glo ook die polisievakbond Popcru.

In die dokumente wat by die Pretoriase hooggeregshof ingedien is, eis Phahlane glo dat Matsemela Matsemela, sekretaris van Popcru in Gauteng, en die drie beamptes hul verklaring, dat hy blameer kan word vir korrupsie by die laboratorium, moet onttrek. Sy prokureur, Mervyn Dendy, het aan City Press gesê Matsemela en die drie beamptes het Phahlane se naam “beswadder”. Hulle het ook sy reputasie “skade berokken” deur in September tydens ‘n mediakonferensie Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, te versoek om Phahlane af te dank, het Dendy gesê.

By die mediakonferensie het Popcru glo aangevoer dat dissiplinêre klagtes teen die drie beamptes gebring is net nadat die vakbond ‘n dossier oor die laboratorium aan die Parlement se polisieportefeuljekomitee en Phiyega voorelê het. In die dossier voer Popcru en die fluitjieblasers aan dat korrupsie, nepotisme en diefstal die hoofredes is vir die agterstand by die laboratorium en dat Phahlane hiervoor blameer kan word, berig City Press. Volgens die koerant het Popcru Phahlane se hofsaak verwerp as ‘n “foefie in ‘n soeke na publisiteit” en dat hy “nie in die hof sal wen nie”.
-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.