Polisieman in eie vangwa geprop

ʼn Man van Pietermaritzburg het ʼn beweerde dronk polisiebeampte “in hegtenis geneem” en agter in sy eie vangwa geprop.

The Witness berig dat Russel George Sondagaand ʼn polisievoertuig gesien het wat vinnig en roekeloos deur die strate gery het. Die polisievoertuig het glo in ʼn stadium in die aankomende verkeer se baan gery. Die polisievoertuig het by ʼn kruising stilgehou waarna George 10111 geskakel het. Toe die polisie nie opgedaag het nie het George die polisievoertuig genader en aan die polisiebeampte gesê om uit die voertuig te klim. Toe die polisiebeampte geweier het, het George die voertuig se sleutels gegryp, die beampte uit die motor getrek en agter in die vangwa toegesluit. George het aan The Witness gesê dat dit duidelik was dat die polisiebeampte onder die invloed van alkohol was. Die polisiebeampte is na die Loopstraat-polisiestasie geneem. George sê terwyl hy ʼn verklaring by die polisie afgelê het, het twee mans by die polisiestasie opgedaag om aan te meld dat ʼn polisievoertuig teen hulle motor gebots het en weggejaag het. Joey Jeevan, ʼn polisiewoordvoerder, sê hulle het ʼn klag ontvang dat die polisiebeampte in ʼn ongeluk betrokke was. Jeevan het ook bevestig dat hulle ʼn klag van aanranding ondersoek teen die polisiebeampte nadat hy glo onlangs sy vriendin met ʼn vuurwapen aangehou het by ʼn nagklub. Die polisiebeampte is in aanhouding.

BRON: The Witness

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.