Polisieman red pasgebore baba uit riool

Konstabel Frankie Williams en konstabel Mildred Lobisa by baba Mpho. Agter is luitenant Loaan Steenkamp.

ʼn Oos-Kaapse polisieman het so ver gegaan as om in ʼn put vol riool te spring om ʼn pasgebore babatjie te red.

Die dogtertjie, wat die bynaam Mpho gegee is, sterk tans in die Humansdorp-hospitaal aan ná haar ma haar glo in ʼn buitetoilet se put gegooi het.

Volgens Adjudant-offisier Gerda Swart, ʼn woordvoerder van die polisie in die Oos-Kaap, het die polisie Mpho, wat geskenk beteken, Woensdagmiddag gered.

Patensie-polisie het omstreeks 17:45 ʼn oproep van ʼn inwoner ontvang wat sê hy hoor ʼn babatjie in die buitetoilet huil.

Die polisie het gaan ondersoek instel en in die toilet se put gekyk waar hulle die babatjie skoppend en huilend gekry het.

Konstabel Frankie Williams het in die put ingespring en die baba uit die riool gered. Die beamptes het die babatjie skoongemaak en in ʼn handdoek toegedraai en na die hospitaal gehaas.

“Die babatjie het brandmerke op haar vel gehad as gevolg van die suur in riool,” het Swart gesê.

Die 25-jarige ma is Donderdag in hegtenis geneem. Sy het Vrydag in die hof verskyn vir poging tot moord. Sy is op borgtog van R500 vrygelaat en die saak kom weer op 12 Junie in die hof voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.