ʼn Vrystaatse polisieman het glo sy vriendin en homself in ʼn veld naby Orkney, Noordwes, geskiet.
Brig. Thulani Ngubane, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê beamptes van die Orkney-polisiestasie het Woensdag omstreeks 18:00 ʼn oproep ontvang dat twee liggame in ʼn veld naby die Goedgevonden-kleinhoewe gevind is.
“Die liggame het sowat 3 meter uit mekaar gelê. Die vrou, Kedibone Kotola (30), het ʼn koeëlwond deur haar linkeroog gehad. Die polisiebeampte, ao. Moeketsi Joseph Morekie (40) van die Vierfontein-polisiestasie, het ʼn koeëlwond bo sy linkeroor gehad. Sy dienspistool was steeds in sy linkerhand vasgeklem. Hulle het albei op hul rûe gelê,” het Ngubane gesê.
Die polisie het op Moreki se dienspistool beslag gelê. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en selfmoord.