ʼn Polisiebeampte is in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn veiligheidswag in Emfuleni in die Vaaldriehoek doodgeskiet het.
Moses Dlamini, woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), sê die 30-jarige konstabel het die veiligheidswag glo Sondag in die vroeë oggendure met sy dienspistool doodgeskiet. Dlamini sê die konstabel wou glo omstreeks 2:00 Sondagoggend drank koop by ʼn kroeg. Die veiligheidswag het glo vir hom gesê die kroeg is reeds gesluit waarna ʼn geveg glo tussen die twee mans uitgebreek het. “Die konstabel beweer dat die veiligheidswag ʼn mes uitgeruk het en gedreig het om hom te steek. Die beampte het sy vuurwapen uitgeruk en die veiligheidswag in die skouer geskiet.” Hy is op die toneel dood. Dlamini sê die konstabel se weergawe van die voorval het nie met ooggetuies se weergawes ooreengestem nie en hy is in hegtenis geneem. Hy sal Dinsdag in die Bluedowns-landdroshof verskyn.