ʼn Polisiebeampte is Dinsdag doodgeskiet tydens ʼn rooftog by ʼn winkelsentrum in Lambton aan die Oos-Rand.
ʼn Polisiewoordvoerder, lt kol Tshishikhawe Ndou, sê twee polisiebeamptes het die winkelsentrum binnegegaan nadat ʼn juwelierswinkel omstreeks 10:00 Dinsdagoggend beroof is. “Agt mans het uit die winkel gehardloop en die polisiebeamptes gekonfronteer. Hulle het die beamptes van hulle vuurwapens beroof voor hulle die een beampte geskiet het.” Die 39-jarige sersant is op die toneel dood. Sy naam is nie bekendgemaak nie. Die rowers het met juweliersware in twee Toyota Corollas gevlug. ʼn Saak van moord en gewapende roof word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.