Polisieman tydens rooftog doodgeskiet

ʼn Polisieman is Dinsdag tydens ʼn rooftog by ʼn supermark in Bloemfontein in die Vrystaat doodgeskiet.

Kapt. Harry Nagel, ʼn polisiewoordvoerder, sê die 41-jarige sersant is in die kop geskiet. Nagel sê vier mans het die supermark in Kopanong kort voor 14:00 Dinsdagmiddag beroof. Die polisie is na die toneel ontbied en die vier rowers het terug in die supermark in gehardloop nadat die polisie op die toneel aangekom het. Nagel sê die rowers het hierna uit die supermark gestorm en op die polisie losgebrand waarna die sersant in die kop getref is. Hy is op die toneel dood. Die rowers het gevlug met ʼn onbekende bedrag geld, ʼn skootrekenaar en ʼn polisiedienspistool. Die rowers is egter sowat 2km van die toneel deur ander polisiebeamptes voorgekeer waarna nog ʼn skietgeveg uitgebreek het. ʼn Konstabel is in die been en hand geskiet terwyl nog ʼn beampte ook in die hand geskiet is. Een van die rowers is doodgeskiet en ander een gewond. Die ander twee rowers het gevlug. Die polisie ondersoek sake van moord, poging tot moord en roof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.