Polisieman vas na skietdood van student

ʼn Polisieman wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn 22-jarige student doodgeskiet het, het Maandag in die Randfontein-landdroshof verskyn.

Moses Dlamini, woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), sê die saak teen die 30-jarige beampte is tot 3 Junie uitgestel wanneer hy na verwagting om borg sal aansoek doen. Dlamini sê die beampte word daarvan beskuldig dat hy Gopolang Ngobeni op 25 Mei doodgeskiet het. Ngobeni en vier medestudente aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie het glo op die dag van die Soshanguve-kampus na ʼn begrafnis gereis toe hulle verdwaal het. Hulle het glo besluit om agter ʼn veiligheidsmaatskappy se motor aan te ry. “Die veiligheidsmaatskappy se motor het ʼn u-draai gemaak in ʼn doodloopstraat waarna die studente ook ʼn u-draai gemaak het. Terwyl die studente na ʼn Caltex-vulstasie gery het om rigtingaanwysings te vra het nog ʼn motor van dieselfde veiligheidsmaatskappy voor hulle inbeweeg.”

Dlamini sê albei motors van die veiligheidsmaatskappy het langs ʼn polisievoertuig stilgehou terwyl die studente na die vulstasie gery het. “Die polisievoertuig en die twee veiligheidsvoertuie het die studente toe glo na die vulstasie gevolg.” Dlamini sê die polisiebeamptes het die studente glo beveel om uit die motor te klim. Een van die polisiebeamptes het Ngobeni toe glo met ʼn R5-aanvalsgeweer geskiet terwyl hy uit die voertuig geklim het. Hy is op die toneel dood. Die motor waarin die studente gery het, is deursoek en niks onwettigs is gevind nie. Die polisiebeampte is in hegtenis geneem en van moord aangekla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.