ʼn Polisiekaptein van die Pinetown-polisie wat verlede jaar glo ʼn vermeende rower tydens ‘n rooftog by ‘n KFC-kitskosrestaurant in Durban doodgeskiet het, het Dinsdag vlugtig in die dorp se landdroshof verskyn.
Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het ʼn ondersoek van stapel gestuur nadat kaptein Dumisani Justice Dladla (42) verlede jaar in Oktober ʼn vermeende rower by die kitskosrestaurant in New Germany doodgeskiet het. Een van Dladla se kollegas is in die voorval dood en ʼn ander ernstig beseer. Opod het na die ondersoek Dladla aangekla van moord en dwarsboming van die gereg. Dladla, ʼn pa van vyf kinders, is op 23 Januarie in hegtenis geneem en kort daarna op ʼn waarskuwing vrygelaat.
Die saak is tot 4 Junie uitgestel vir verdere ondersoek.