Polisieman, vyf vas ná roof

ʼn Polisiebeampte is Dinsdag in hegtenis geneem nadat hy glo saam met vyf ander mans ʼn vulstasie in Bothaville in die Vrystaat beroof het.

Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, sê die 32-jarige konstabel is verbonde aan die Orkney-polisiestasie in Noordwes en is by sy huis in dié dorp in hegtenis geneem. Thakeng sê ses gewapende mans in twee voertuie het Vrydag die vulstasie beroof. Twee van die mans het van die polisie se koeëlvaste baadjies aangehad. Thakeng sê die mans het met ʼn onbekende bedrag geld en vier petroljoggies se selfone en beursies gevlug. Vier van die mans is Maandag in Bothaville in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn wenk van die publiek ontvang het. Die polisie het beslag gelê op twee koeëlvaste baadjies, vier selfone en vier beursies. ʼn Vyfde verdagte is Dinsdagoggend by sy vriendin se huis in Odendaalsrus in hegtenis geneem. Die ses mans sal Woensdag in die Bothaville-landdroshof verskyn op aanklagte van gewapende roof. Die vyfde verdagte en sy vriendin sal ook op aanklagte van die onwettige besit van ʼn vuurwapen verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.