Polisiemanne verdink dat hul bendelede beskerm

polisie 2‘n Ondersoek is van stapel gestuur nadat inligting aan die lig gekom het dat polisiebeamptes en ‘n staatsaanklaer glo sewe bendelede beskerm. Die bendelede word aangekla van geweld en moord wat glo verband hou met taxi-geweld in die Vaal-driehoek, het die Valke bekend gemaak.

Paul Ramaloko, ‘n woordvoerder van die Valke, het gesê die vermeende bendelede, wat glo lede is van die Vaal Wits taxi-vereniging, is in Desember tydens verskeie voorvalle in hegtenis geneem. “Die sake is nooit verder ondersoek nie,” het Ramaloko gesê.

Die taxi-geweld het glo tot die dood van twee taxi-base en ‘n 15-jarige kind gelei.

“Toe die valke die saak begin ondersoek het, het ons ontdek dat ‘n aantal sake nog nie opgelos is nie. ‘n Man, wat glo die meesterbrein van die voovalle is, is reeds in hegtenis geneem.”

Ramaloko sê na dié man se inhegtenisname, is nog drie mans in hegtenis geneem wat glo ooggetuies wou vermoor. Die Valke het ook beslag gelê op ‘n voertuig en ‘n vuurwapen wat na bewering gebruik is om die moorde mee te pleeg. Die vuurwapen is vir balistiese toetse gestuur.

Drie van die sewe mans word aangekla van taxigeweld, moord en poging tot moord. Die ondersoek duur voort.

Vier van die verdagtes sal na verwagting 14 Januarie in die Sebokeng-landdroshof verskyn. Die ander drie sal na verwagting op 16 Januarie in dieselfde hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.