Die ANC het ʼn aanval oor die naweek, waarin vyf mense dood en 17 ander beseer is, streng veroordeel en vra die publiek se samewerking om die verdagtes op te spoor.
Die aanval het Saterdagaand in Ngudwini, naby Sundumbili in die noorde van KwaZulu-Natal, plaasgevind. ʼn Groep verdagtes het Saterdagaand losgebrand op ʼn groep mense wat ʼn tradisionele geleentheid in die omgewing bygewoon het.
“Die ANC is diep gesteur deur dié brutale en barbaarse aanval. Ons versoek die publiek om met die polisie saam te werk sodat die moordenaars opgespoor kan word,” het Senzo Mkhize, die ANC se provinsiale woordvoerder, gesê.
Die rede vir die aanval is nog nie bekend nie. Volgens kolonel Jay Naicker, ʼn polisiewoordvoerder, word die voorval nie met politieke geweld verbind nie. Dit is ook nog nie bekend watter vuurwapens tydens die voorval gebruik is nie.
Mkhize het gesê volgens gerugte is daar spanning tussen twee nedersettings in die gebied, wat moontlik tot die aanval kon lei. Polisieteenwoordigheid is in die omgewing opgeskerp.