Polisievlieënier was glo dronk

Argieffoto

ʼn Geregtelike ondersoek in die Emalahleni (Witbank)-landdroshof het beweringe aangehoor dat die vlieënier van ʼn polisiehelikopter wat in Julie 2010 neergestort en die dood van sewe mense veroorsaak het, glo dronk was, het Beeld Maandag berig.

Kapt. Wickus Zaayman, die 31-jarige vlieënier, en sy kollegas was onderweg na ʼn misdaadtoneel toe die helikopter neergestort het.

Tom Clemens, die staatsaanklaer, het aangevoer dat Zaayman en sy mede-vlieënier, Thinus Gouws, dronk was tydens die ongeluk en dat hul “besope toestand” tot die tragedie bygedra het.

Clemens het gesê dat ʼn nadoodse ondersoek bepaal het dat Zaayman, wat gedurende sy vliegloopbaan onder andere voormalige presidente Nelson Mandela en Thabo Mbeki rondgevlieg het, se bloedalkoholvlak 0.08 g/100 ml was, en Gouws s’n was 0.02 g/100 ml.

Malose Monene, die polisie se prokureur, het egter gesê dat bewyse “oorweldigend duidelik” was dat Zaayman nugter was toe daar van hom verwag was om te vlieg.

Monene het gesê dié bewyse is duidelik omdat Zaayman besluit het dat een passasier afgelaai moes word nadat die helikopter opgestyg het, omdat hy besef het die helikopter was oorlaai.

Monene het bygevoeg dat Zaayman ook genoegsame ondervinding gehad het om in slegte weerstoestande te kon vlieg.

Landdros Ernst du Plooy sal in November sy uitspraak lewer.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.