Polisievrou se oorskot dalk gevind

Die foto is deur @barrybateman op Twitter gelaai. ʼn Polisievrou wat in 2004 vermis geraak het en wie se vriend lewenslank tronk toe gestuur is weens haar moord, se oorskot is moontlik gevind.

EWN berig dat daar Dinsdagoggend beendere gevind is in die tuin van William Nkuna se huis in Temba naby Hammanskraal, noord van Pretoria. Nkuna is in November 2005 lewenslank tronkstraf opgelê vir die moord op sy vriendin konst. Francis Rasuge. Sy het in Augustus 2004 vermis geraak en daar is aangeneem sy is dood, hoewel haar oorskot nooit gekry is nie. Sy is die laaste keer lewend gesien toe Nkuna haar by ’n haarsalon in Temba opgelaai het. Die polisie hoop nou dat die beendere wat Dinsdag by Nkuna se vorige huis gevind is, die van Rasuge is. Die gebied rondom die huis is vroeër vandag afgesper terwyl forensiese kenners die beendere opgegrawe het. Volgens berigte is amper ʼn hele geraamte onder twee lae beton gevind. Die mense wat nou in die huis woon wou glo aanbouings doen en het hulle op die beendere afgekom terwyl daar fondasies gegrou is.

In November 2005 is daar berig dat Rasuge se oorskot moontlik gevind is nadat ʼn veiligheidswag glo aan die polisie erken het dat Nkuna hom betaal het om Rasuge se lyk te begrawe. Dié oorskot wat by die Kgabalatsane-begraafplaas in Ga-Rankuwa gevind is, was egter die van ʼn bejaarde vrou. In Mei 2007 het die polisie met snuffelhonde deur Nkuna se motorhuis gestuur, maar daar was geen teken dat haar lyk daar begrawe is nie. Rasuge was 27 jaar oud toe sy vermis geraak het.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.