ʼn Polisievrou is in hegtenis geneem en vir korrupsie aangekla na sy op heterdaad betrap is terwyl sy geslagsgemeenskap met ʼn gevange in die Scottburgh-polisiestasie gehad het.
Die Natal Witness berig Woensdag die gevangene, Sibusiso Ndaba, en die beampte het glo voorheen ʼn intieme verhouding gehad.
Luitenant-kolonel Zandra Wiid, ʼn polisiewoordvoerder, het aan die koerant gesê Ndaba is in 2010 in hegtenis geneem na hy deel was van ʼn transitorooftog in Ixopo. Hy en vyf medebeskuldigdes het Maandag in die Ramsgate-hooggeregshof verskyn.
Ndaba het die aand in die selle van die polisiestasie in Schottburgh spandeer waar hy en die beampte gevang is. Die beampte, ʼn konstabel, is glo betrokke in die saak teen Ndaba.
“ʼn Interne ondersoek teen die beampte is onderweg. Sy het nog nie in die hof verskyn nie,” het Wiid gesê.