Polisiewaghond ondersoek aanval op gesin

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek ʼn voorval waar vier mense hulle as polisielede voorgedoen het en glo ʼn gesin in Greytown in KwaZulu-Natal aangeval het.

Kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, sê die vyf gesinslede is omstreeks 3:00 Donderdagoggend in hul huis aangeval. “Die slagoffers beweer hul is na nabygeleë bosse geneem waar hulle aangerand is. Die verdagtes het die gesinslede glo daarvan beskuldig dat hulle betrokke is by ʼn moordsaak wat vroeër die maand aangemeld is.” Zwane sê een van die gesinslede het later aan sy beserings beswyk. Hy sê ʼn saak van moord, ontvoering en aanranding met die doel om ernstig te beseer is by die Ematimatolo-polisiekantoor aanhangig gemaak en die saak is na Opod verwys vir verdere ondersoek. Luit. Gen. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval ten sterkste veroordeel en gesê die polisie sal hulle samewerking gee in die ondersoek. Hy sê ʼn interne ondersoek sal ook gedoen word om te bepaal of enige polisiebeamptes by die aanval betrokke was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.