Polisiewoordvoerder pleeg selfmoord ná hy glo gesoekte misdadigers vrylaat

Kaptein Brian Plaatjies. Foto: Beeld

ʼn Beampte van die Lyttelton-polisie het glo Saterdag selfmoord gepleeg nadat hy na bewering drie rowers vrygelaat het.

Kaptein Brian Plaatjies, wat as woordvoerder vir die Lyttelton-polisie gedien het, het glo Saterdag drie verdagtes, wat met gesteelde goedere betrap is, vrygelaat voor hulle by die stasie ingeboek was. Hy het beweer die mans was sy informante en het die konstabel aan diens beveel om die mans vry te laat. Die konstabel het die voorval by ʼn hoër gesag aangemeld. “Die kolonel het Plaatjies beveel om die drie mans weer aan te keer, of hy sal van dwarsboming van die gereg aangekla word,” het ʼn bron aan Maroela Media gesê.

Plaatjies en polisiebeamptes het kort daarna weer twee van die verdagtes aangekeer, maar die derde persoon kon nie opgespoor word nie. Plaatjies het na sy huis gegaan omdat hy glo iets wou gaan kry terwyl die ander beamptes vir hom buite sy huis gewag het. Hy was glo vir ʼn geruime tyd doenig en toe ‘n beampte hom op sy selfoon bel om te hoor waar hy is, het Plaatjies glo gesê hy gaan nie hiervoor in hegtenis geneem word nie, en het homself kort daarna geskiet. Die derde verdagte is ʼn uur na dié voorval aangekeer.

Luitenant-kolonel Lungelo Dlamini, ʼn woordvoerder van die Gautengse polisie, kon nie veel oor die bewerings uitbrei nie. Hy het wel aan Maroela Media bevestig dat Plaaitjies by sy tannie in Eersterust gebly het. “Hy en ander polisiebeamptes was aan diens toe hulle na sy woning gegaan het. Hulle het buite sy huis vir hom gewag. Hulle het later ʼn geweerskoot gehoor en gaan ondersoek instel. Hy het homself glo met sy dienspistool geskiet. Hy het ʼn selfmoordbrief agter gelaat wat deel gaan uitmaak van ʼn volledige ondersoek,” het Dlamini gesê.

Beeld berig die drie mans word glo al langer as twee jaar gesoek weens motordiefstal in die ooste van Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.