Polla en sy rugbyblog is terug

Alhoewel die Superrugby reeds verlede week met die Australiese spanne afgeskop het, het die eerste groot wedstryde eers Saterdagoggend 20 Februarie in alle erns begin.

Die Chiefs het ʼn besoek afgelê by die Highlanders. Gelukwense aan albei spanne wat bereid was om die bal lug te gee. Sewe drieë is in die proses gedruk met die bonuspunt wat aan die Chiefs gaan vir vier drieë. Aanvanklik het die Chiefs swaar gekry in die skrums maar dit het nie verhoed dat hulle die spel wyd gemaak het nie.

Die voorlopers het telkens verwissel met die Chiefs wat die telbord aanvanklik aan die rol gesit het. Die voorlopers het drie keer gedurende die wedstryd verander, maar met vier drieë en die eindtelling op 41-27 vir die Chiefs, was dit uiteindelik die verdedigende kampioen wat as wenners uit die briljante stryd getree het. Wat ʼn ongelooflike opwindende wedstryd!

Die volgende wedstryd het nie die intensiteit van die eerste een gehad nie en ʼn mens kon duidelik die verskil in gehalte van spel sien tussen dié van Nieu-Seeland en dié van Australië.

Jake White se hand is duidelik sigbaar in die spel van die Brumbies en alhoewel nie briljant nie, het die Brumbies redelik gemaklik gewen nadat hulle halftyd 13-12 teen die Rebels agter was. Die Brumbies het daarna oorheers en die wedstryd gemaklik met 30-13 gewen.

Die Waratahs en die Reds het ook maar ʼn wedstryd van gemiddeldes gespeel. Die Reds het wel ʼn blitskrieg uitgevoer en twee drieë in vier minute gedruk, maar in die geheel het hulle nie oortuig nie. Die eindtelling van 25-17 is nie ʼn getroue weergawe van die spel nie.

Vir die Reds was Quade Cooper, losskakel, nie die ster van verlede jaar nie en dit voorspel niks goed vir die Reds vorentoe nie.

Toe begin die plaaslike been met die tradisionele Noord-Suid-stryd tussen die Bulls en die Stormers op vesting Loftus Versfeld. Alhoewel hard en meedoënloos het die skouspel van die Chiefs-Highlanders-wedstryd ontbreek. Die Curriebeker-kampioen het nog steeds die rotsvaste verdedigingspatroon gehad, maar die verskil hier was die losskakels. Morné Steyn het met selfvertroue gespeel en sy skopwerk pale toe sowel as taktiese skopwerk was briljant. Hy het slegs met een van sy ses pogings pale toe gemis (ʼn skepskop wat eerder na ʼn hoekskop gelyk het). Sy taktiese skopwerk het die Stormers die heeltyd in hulle eie halfgebied vasgepen.

Sy teenstander daarenteen, Elton Jantjes, het vier strafskoppe pale toe verbrou (kyk watter verskil kon dit aan die eindtelling gemaak het!). Joe Pietersen het die skopwerk in die tweede helfte by Jantjes oorgeneem en met al sy pogings geslaag. Die Bulle het welverdiend met 25 -17 gewen.

Saterdagoggend spring weg met die Hurricanes en die Blues in Nieu-Seeland en weereens ʼn skitterende wedstryd. Die Blues wat verlede jaar maar gesukkel het, het nuwe lewe getoon en het die skitterende wedstryd met 34-20 gewen.

Die Crusaders het ʼn loslootjie gehad en ek sien uit na hulle eerste wedstryd teen die Blues in Auckland die komende naweek. Die Crusaders is beslis die mees konstante topspan in die reeks en dit sal interessant wees om hulle buiging in die huidige reeks te aanskou.

Later die middag het die Sharks en die Cheetahs hulle stryd op Bloemfonteinstadion voortgesit. Die Cheetahs het mos die vermoë om die Sharks daar onkant te betrap. Dit was byna weer die geval. Die Sharks het aanvanklik ʼn wurggreep op die Cheetahs toegepas wat hulle nie kon afskud nie (alhoewel die Cheetahs binne vyf minute eerste ʼn drie gedruk het ná ʼn pragtige voorspeler dryfbeweging).

Die Cheetahs beskik oor ʼn hele paar spelbrekers in die agterlyn, maar aanvanklik wou sake nie vlot nie. Raymond Rule is soos ʼn valk dopgehou en is geen beweegkans gegun nie.

Johan Goosen wat verlede jaar as 19-jarige begin Superrugby speel, en homself tot binne in die Springbokspan gespeel het, was duidelik senuweeagtig en het swak gespeel. In die tweede helfte het hy tog sy ritme gevind en het die Cheetahs byna daarin geslaag om weereens vir die verrassing te sorg. Die Sharks met Patrick Lambie aan die spits was egter net te goed vir die Cheetahs en het die aanslag afgeweer. Met die laaste strafskop het hulle die wedstryd buite bereik van ʼn bonuspunt vir die Cheetahs geplaas.

Die verassing van die naweek was toe in die laaste wedstryd opgesluit. Almal het skepties gestaan teenoor die Kings en niemand het verwag dat hulle met soveel passie en volslae toewyding die Southern Force sou aandurf nie. Hulle was met halftyd 10-5 agter, maar met die begeesterde leiding van Luke Watson (beslis nie my gunsteling speler nie), het die Kings almal verras deur met 22-10 teen die Force te wen.

My gelukwense aan die Kings wat ná die eerste rondte die voorlopers in die SA-been van die kompetisie is. Ongelukkig word die Super 15 nie in Februarie gewen nie, maar eers op 3 Augustus. Verder moet die Kings net kennis neem dat die Force die swakste span in die swakste been van die kompetisie is.

Hulle volgende wedstryd is op Saterdag 9 Maart teen die Sharks in Port Elizabeth. Tot dan moet hulle die droombegin geniet, want ek dink dan sal die droom soos ʼn seepbel bars.

Jammer as ek pessimisties klink , maar die Kings sal dan eers met die realiteit van Superrugby te doen kry.

Wat die ses-nasies betref, lyk die prentjie nog ietwat duister, maar dit lyk of Engeland op pad is om die titels vir 2013 syne te maak. Na drie wedstryde loop die Rose met ses punte op die log voor, gevolg deur Skotland en Wallis met vier punte elk en dan is dit Italië met twee punte en skokkend die Franse Hane laaste met geen punte ná drie wedstryde nie.

In die Varsity-beker wat op studente-rugby fokus, is die Maties die voorlopers gevolg deur Tukkies, UJ en Noordwes Pukke. Enigeen van dié vier spanne kan nog die titel inpalm.

Rugbygroete uit die Bosveld.

Polla Roux

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Hoofnuus, Nuus, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae