Porno-beskuldigdes wil “eksplisiete materiaal” sien

Sewe van die nege beskuldigdes verskyn op 8 Desember 2010 in die Pretoria-Noord streekshof. Foto: Giordano Stolley/SAPA

Regsverteenwoordigers van nege familielede wat tereg staan op aanklagte wat verband hou met kinderpornografie, het aan die Pretoria Noord streekshof gesê hulle wil die “eksplisiete materiaal”, wat in die staat se besit is as bewysstukke, sien en kopieë daarvan hê.

Die vier paartjies en een van hulle se ongetroude seun staan tereg op meer as ʼn 100 aanklagte wat onder meer insluit verkragting, gedwonge verkragting, die seksuele misbruik van kinders, seksuele aanvoorwerk en die maak en versprei van kinderpornografie. Landdros Pieter Nel het die saak tot 14 Junie uitgestel wanneer die beskuldigdes se regsverteenwoordigers na verwagting formeel sal aansoek doen om toegang te verkry tot kopieë van die materiaal. Die staatsaanklaer, Tania Carstens, het gesê voor hulle die verdediging se versoek toestaan moet die hof eers die regte van die kinderslagoffers en die gemeenskap opweeg teen die van die beskuldigdes. Sy het aangevoer dat die kopiëring en verspreiding van die materiaal aan die beskuldigdes se regsverteenwoordigers, sal neerkom op die verspreiding van kinderpornografie.

Agt van die familielede is in Desember verlede jaar op kleinhoewes, noord van Pretoria in hegtenis geneem. Hulle is ʼn oupa (58), ouma (57), hulle twee seuns van vorige verhoudings, onderskeidelik 34 en 36 jaar oud, een van hulle se vrou (26), die oupa se broer (61), sy vrou (42) en hulle seun. Die negende familielid, ʼn 31-jarige vrou van een van die seuns, is in Januarie by haar werkplek in Hammanskraal in hegtenis geneem. Ses kinders van tussen 4 en 13 jaar oud is vroeër uit hulle sorg verwyder. Die kinders moes glo seksdade met mekaar doen. Van die kinders is glo ook deur die oupa en ouma verkrag en seksueel aangerand terwyl dit verfilm is. Van die kinders was in pleegsorg by die beskuldigdes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.