Poskantoor kry nuwe direkteure

Argieffoto

Argieffoto

Vier nuwe nie-uitvoerende direkteure is deur die kabinet aangestel om op die raad van die Suid-Afrikaanse Poskantoor te dien om die direkteure te vervang wat uitgetree het nadat die omstrede voormalige minister van kommunikasie, Dina Pule, die trekpas gegee is.

Die Poskantoor het Vrydag in ʼn verklaring gesê die vier direkteure is:

– Sathie Gounden , ‘n geoktrooieerde rekenmeester en die voormalige uitvoerende hoof van Gobodo Ouditeure. Gounden is tans die uitvoerende hoof van die South African Institute of Professional Accountants (SAIPA) ;

– Templeton Mageza, ‘n senior prokureur in ʼn privaat praktyk. Hy het in verskeie sake as hooggeregshofregter opgetree. Mageza dien ook op die direksies van verskeie ander maatskappye en het al baie senior politieke figure verteenwoordig;

– Sihle Ngubane, ‘n IT- spesialis en besturende direkteur van die plaaslike tak van die internasionale IT firma, Sizavox ; en

– Boitumelo Mothelesi, ‘n sakevrou wat haar eie kommersiële ondernemings bedryf. Mothelesi is ook ‘n direksielid van Adrenna Properties en dien as voorsitter op hul ouditkomitee .

“Die poskantoor is deurspek met korrupsie wat miljarde rande oor die afgelope dekade beloop,” het die Poskantoor gesê. “Die nuwe minister van kommunikasie, Yunus Carrim, het dit duidelik gemaak dat dit sy grootste prioriteit is om van al die ‘gemors’ ontslae te raak.”

President Jacob Zuma het vroeër die maand die spesiale ondersoekeenheid versoek om bewerings van ernstige wanadministrasie by die Poskantoor te ondersoek. Verskeie forensiese ondersoeke is aan die minister verskaf en wag op implementering.

Intussen het die onlangse staking by die poskantoor Woensdag tot ʼn einde gekom. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.