Postituut- en tienermoord: Prostituut se vriend getuig

Johannes Christiaan de Jager (48) Woensdag in die hof. Foto: SAPA

Johannes Christiaan de Jager (48) Woensdag in die hof. Foto: SAPA

Colin Jacobs (26), die vriend van ʼn prostituut van Parow, Hiltina Alexander (18) wat glo deur Johannes de Jager vermoor is, se kruisondervraging hervat Donderdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof.

Jacobs is die eerste getuie in die moordverhoor.

Jacobs het Woensdag, nadat De Jager (48) onskuldig gepleit het op aanklagte van verkragting en moord op Alexander, gesê die laaste keer wat hy Alexander gesien het, was op 18 Mei 2008 toe sy in ʼn wit bakkie saam met De Jager geklim het.

Alexander se liggaam is ʼn dag daarna langs ʼn snelweg gevind. ʼn Nadoodse ondersoek het bewys dat sy verwurg is.

Jacobs is egter eers ʼn week daarna van haar dood ingelig. Hy het toe begin kyk of hy die bakkie iewers sien, aangesien die bestuurder (De Jager) ʼn verdagte in haar moord is. Hy het gesê hy het eendag op pad gimnasium toe, die bakkie buite ʼn werkswinkel opgemerk. Hy het die ondersoekbeampte gebel en na die toneel ontbied. Hy is intussen self by die werkswinkel in en het gevra aan wie die bakkie behoort. De Jager is geroep. 

Jacobs sê De Jager het hom herken en wou die werkswinkel sluit. Jacobs het De Jager se bakkiesleutels gegryp om seker te maak dat hy nie wegry nie. De Jager het glo ʼn vuurwapen te voorskyn gebring en Jacobs beveel om sy sleutels terug te gee. Die polisie het daarna by die toneel opgedaag en beheer oor die situasie geneem. Hy het gesê polisiebeamptes het ʼn oorbel, wat glo aan Alexander behoort het, onder ʼn mat in De Jager se bakkie gevind.

Charmaine Mare

Charmaine Mare

 

Jacobs het onder kruisverhoor van Sakkie Maartens, De Jager se prokureur, gesê hy was nie Alexander se “pimp” (bestuurder van prostitute) nie, maar het wel ʼn seksuele verhouding met haar gehad.

De Jager word ook daarvan aangekla dat hy die 18-jarige Christina Mare van Mpumalanga vermoor het. Dié tiener se verminkte liggaam is op 14 Januarie vanjaar in ʼn veld in Kraaifontein gevind. De Jager het Woensdag in sy pleitverduideliking erken dat hy haar liggaam opgesny en verbrand het. Hy het ontken dat hy haar vermoor het en het gesê haar dood was ʼn “ongeluk”. Lees meer hier.

Die verhoor duur voort.

Lees ook:
Prostituut- en tienermoord: De Jager erken hy sny tiener op
Prostituut- en tienermoord: Verhoor begin vandag
Prostituut- en tienermoord: Man weer in hof
Man in hof wat Kaapse tiener glo vermoor, in stukke opkap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Justi ·

Die aaklige, wrede barbaar lieg so hy glo hom self! Sies, hy verdien die swaarste straf wat daar is.

minki ·

die artikel se christina mare en die foto se charmaine mare.wat is ha naam nou eintlik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.