Potch-seuntjie sterk aan ná hy byna verdrink

Edgar Julyan Foto: Drowning and Near-Drowning support Facebook-blad

Die 21 maandeoue Edgar Julyan van Potchefstroom wat Vrydagmiddag in ‘n swembad geval en byna verdrink het, sterk aan in die hospitaal.

Edgar is tans in ‘n kunsmatige koma om swelling op sy brein te verminder en hy is ook onder ‘n ys-kombers om sy liggaamstemperatuur te verlaag. “Ek was besig om tee te maak in die kombuis toe ek besef hy is weg,” het Frank Julyan, Edgar se pa, gesê. “Toe ek buite kom het hy met sy gesig na onder in die water gedryf.” Frank het sy enigste kind uit die water gehaal en dadelik mond-tot-mondasemhaling begin toepas. “Sy hartjie het nie meer geklop nie en hy het ook nie asemgehaal nie,” het Frank bygevoeg.

Volgens sy ouers was Edgar nie langer as vyf minute onder die water nie. “Edgar se skopfietsie was ook in die swembad, so hy het moontlik in die swembad geval,” het Frank gesê.

Die nooddienste is dadelik ontbied, maar Frank het met noodbehandeling aangehou totdat hulle opgedaag het. Hy is na die Garden City-hospitaal in Johannesburg geneem vir verdere behandeling.

“Bid asseblief saam vir ons seuntjie Edgar,” het Marlene Julyan, Edgar se ma, geskryf. Volgens Marlene het die neurochirurg ‘n drukmeter in sy skedel geplant om drukking te kontroleer. “Edgar lyk vanoggend bietjie beter, hy het selfs “rosy cheeks”! Wanneer die sedasie uitwerk beweeg sy voetjies normaal!” het Marlene bygevoeg.

Edgar sal Woensdag wakker gemaak word om te bepaal of daar enige breinskade is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SANETTE HENNING ·

Ons bid saam jul dat hy volkome sal herstel en geen skade sal oorhou. Sterkte

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.