Potch-studente sukkel sonder krag

ʼn Kragonderbreking wat Maandag in Potchefstroom voorgekom het, het veroorsaak dat sommige studente aan die Noordwes-Universiteit (Pukke) nie hul oggendsessie se eksamens kon voltooi nie.

Die kragonderbreking is glo deur ʼn foutiewe munisipale transformator veroorsaak. Die universiteit het in ʼn verklaring op hul Facebook-blad gesê dat die universiteit se eie noodkrag nie onmiddellik doeltreffend in werking kon tree nie, omdat die lading te hoog was.

Die bestuur van die Potchefstroomkampus het daarom besluit om spesiale reëlings in werking te stel om die studente wat hierdeur geraak is, te akkommodeer.

Chris Hattingh, die provinsiale leier van die DA, het Maandag aan Maroela Media gesê hy is bewus van die kragtoevoerprobleem in die noordelike gedeelte van Potchefstroom. Hy kon egter nie in dié stadium sê wat die probleem veroorsaak het, of hoe lank dit gaan neem om kragtoevoer in die gebied te herstel nie.

Die universiteit het omstreeks 15:20 op Facebook geskryf alle rekenaarlokale se krag is weer aan en die koshuise se krag sal vanaf 16:30 ook aangeskakel wees. Hulle het studente versoek wat dringend krag benodig om ‘n elektroniese toestel te laai, om dit in enige akademiese gebou te gaan doen.

Willie Maphosa, die Tlokwe-munisipaliteit se woordvoerder, kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.