Tandartse in die Potchefstroom-gebied sal tande van skenkers begin versamel om ‘n begrip te kry van die uraan-inhoud in die plaaslike watervoorsiening.
Die versameling tande van vrywillige skenkers is deel van ‘n studie vir die Kankervereniging van Suid-Afrika wat poog om die omvang van blootstelling aan uraan in die gebied te bepaal. Dr. Carl Albrecht, studieleier, het gesê die blootstelling aan uraan mag moontlik kanker veroorsaak.
“Uraan kan as ‘n hormoonversteuring optree, en lae vlakke van estrogeen naboots wat moontlik die oorsaak van kanker en kognitiewe funksie kan verhoog,” het Albrecht aan die Saturday Star gesê. Volgens Albrecht sal volwasse tande, insluitend verstandtande, bruikbaar wees, aangesien dié tande uraan “vasvang”.
Dertig tande van Potchefstroom-inwoners wat vir ten minste vyf jaar in die gebied bly en slegs kraanwater gedrink het, sal gebruik word. Die gebied se drinkwater mag moontlik blootgestel wees aan deursyfering van nabygeleë mynhope en mynwater.
Dertig tande sal ook van Ventersdorp versamel word om as kontrole te dien.