Pous pos “pedopater”

Eric Dejaeger Foto: NunatsiaqOnline

Eric Dejaeger Foto: NunatsiaqOnline

‘n Vlaamse priester wat in Kanada teregstaan op aanklagte dat hy tientalle Eskimo-kinders seksueel misbruik het, is deur die pous uit sy amp verwyder.

Die nuus het aan die lig gekom toe die verhoor van die priester, Erik Dejaeger (66) Maandag hervat is. Dit blyk dat hy reeds in 2011 deur die vorige pous uit sy amp verwyder is.

Dejaeger bly op sy eie aandrang lid van die Oblate-orde waarin hy die aanspreekvorm “broer” geniet.

Die nuwe pous, Fransiscus, het vroeg in Desember verlede jaar ‘n kommissie aangestel om pedofilie onder geestelikes in die kerk te ondersoek. Die Rooms-Katolieke Kerk verkeer nou al etlike jare in ‘n geloofwaardigheidskrisis weens aanduidings dat die kerk oor die jare getuienis hieroor in die doofpot probeer prop het.

Dit het verlede week bekend geword dat pous Benedictus XVI, wat verlede jaar afgetree het, tussen 2011 en 2012 net minder as 400 priesters weens pedofilie afgedank het.

‘n Amerikaanse regter het ook vroeg in Desember gelas dat die name gepubliseer word van 46 priesters van Minnesota, wat van pedofilie beskuldig word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.