Praag-webblad loop glo onder kuberaanval deur

roodt_dan_wiki

Dr. Dan Roodt

Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (Praag) het Donderdag gesê dat ʼn “massiewe kuberaanval” sedert Dinsdagoggend teen die webwerwe en bedieners van Praag geloods is.

Volgens die groep het die sogenaamde verspreide-diensweerhoudingsaanval (DDOS), waarby potensieel tienduisende rekenaars betrokke was, dit as oogmerk gehad om Praag en sy diensverskaffer bankrot te maak deur die verbruik van bandwydte en skade aan netwerkinfrastruktuur. Met tye het die verspreide-diensweerhoudingsaanval die Praag-bedieners buite werking gestel, maar tans is beide die Afrikaans webwerf by praag.co.za en die Engelse blad by praag.org weer aanlyn. Praag is ʼn gemeenskapsnuusdiens en kultuurorganisasie.

Dr. Dan Roodt, direkteur van Praag, het in ‘n verklaring gesê: “Ons is heeltemal verbyster deur die vlak van kuberaktiwiteit wat daar tans deur ekstremistiese anti-Afrikaanse groepe in die land teen ons gemonster word. Daar bestaan ook verskeie Facebook-blaaie wat deur mense onder vals identiteite bedryf word wat ons wil vernietig, oënskynlik omdat ons betogings teen misdaad ondersteun, asook veeltaligheid in Suid-Afrika goedgesind is.”

Volgens Roodt het die kuberaanval aansienlike skade aangerig, nie net aan Praag nie, maar ook aan sy diensverskaffers en hul netwerke, iets wat kragtens Suid-Afrikaanse wetgewing strafregtelike aanspreeklikheid skep. “Hierby kan ook gronde vir ‘n siviele eis gevoeg word, indien die oortreders opgespoor word. Ons gaan klagtes by die polisie indien kragtens die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies nr. 25 van 2002 rakende die verspreide-diensweerhoudingsaanval teen ons, asook daardie naamlose individue wat aanhou om ons op Facebook en ander sosiale media en teenoor potensiële adverteerders op ons blad belaster,” het hy bygevoeg.

“Ons gaan beslis nie hierdie soort aanvalle met gelatenheid verduur nie. Ons lesers en ondersteuners staan by ons en honderde het reeds as vrywilligers aangemeld om dié pogings om ons monddood te maak, te beveg. Ons sal egter nie van die onsmaaklike en onderduimse metodes van ons teenstanders gebruik maak nie, maar ons op ‘n oop, deursigtige en wettige manier verdedig.”

Lees ook:
Praag-webwerf kan dalk sluit

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Justi ·

Nee wat te erg is, is te erg. En dit heel moontlik omdat een “suur” mens alles begin het? Waarom het die persoon wat so vinnig koerant toe gehardloop het dan die nuus gelees of die kommentaar? Dis volgens my uiters swak! Dan Roodt ek hoop julle kan die skuldiges vasvat.

Trippie ·

Glo my Justi – as vurige Praag ondersteuner, kan ek bevestig – Dr Roodt sal dit NIE net daar laat nie.

Hy is verseker nie ‘n ruggraatlose jellievis nie.

Frik Lotz ·

Ongelooflik dat mense tot sulke uiterstes sal gaan om Afrikaans te probeer vernietig en te probeer keer dat artikels wat die waarheid uitdra tot niet te probeer maak. Wat het van vryheid van spraak geword? Wat van vryheid van assosiasie? Hopelik sal die skuldiges aan die pen ry.

Trippie ·

Sjym – ten minste DOEN hy iets – gaan plaas hierdie op sy blad — ek daag jou uit !!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.