Predikant vies vir mediese raad

Eerw. Andrew George het Maandag glo woedend uit ʼn mediese verhoor in Pretoria gestorm nadat ‘n klagte teen ’n dokter wat hom behandel het, teruggetrek is.

George (63), ʼn predikant van Life Enrichment Ministries aan die Wes-Rand, en sy vrou het uit ʼn verhoor van die Raad van Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGSA) gestap, het Beeld Dinsdag berig.

Dr. Estelle Marthina Richter, ʼn voormalige ongevalle dokter by die Olivedale-kliniek, het George op 26 Januarie 2008 behandel nadat  ʼn voertuig hom glo van sy motorfiets af gestamp het.

Sy het hom vir ’n gebreekte gewrig en gekneusde longe behandel, maar nie vir 16 ribfrakture, twee gebreekte rugwerwels en ʼn gebreekte sleutelbeen nie.

Richter het skuld erken en is skuldig bevind dat sy nagelaat het om die ernstige aard van George se borsbeserings te diagnoseer en te behandel. Sy is vir ses maande lank geskors waartydens sy nie privaat mag praktiseer nie.

Volgens die berig is Richter oorspronklik daarvan aangekla dat sy versuim het om die besering aan George se werwelkolom te identifiseer en ook nagelaat het om hom na ’n chirurg aan diens te verwys voordat hy in ’n algemene saal opgeneem is.

Dié aanklagte is deur die RGSA teruggetrek, nadat Richter se prokureur daarteen beswaar aangeteken het. Dit is toe dat George uit die verhoor gestorm het.

George het aan Beeld gesê die RGSA is “van koers af”. “Die hele verhoor was ʼn mors van tyd. Die RGSA het ʼn regskomitee geword en is nie meer ʼn mediese beskermingskomitee nie.”

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.