Premier van Libië ontvoer

Ali Zeidan

Ali Zeidan

Gewapende mans wat glo “baie ordentlik opgetree het” het die Libiese premier, Ali Zeidan, vroeg Donderdagoggend uit ‘n hotel in die hoofstad Tripoli ontvoer.

Die ontvoering is as só ordelik beskryf, dat dit die voorkoms van ‘n arrestasie gehad het, aldus personeel van die hotel. Volgens ‘n amptelike verklaring deur die Libiese regering is hy egter deur militante ontvoer en na ‘n onbekende bestemming geneem.

Teenstrydige berigte oor presies wat gebeur het, wie verantwoordelik en wat die motief is, word die wêreld ingestuur.

Een van die mees onheilspellende scenarios is dat dit verband hou met ‘n klopjag verlede Saterdag van ‘n Amerikaanse kommando-eenheid, waarskynlik Seals, wat ‘n bekende terroristeleier,  Abu Anas al-Libi, in Tripoli vasgetrek en saamgeneem het. Hy word wêreldwyd as ‘n leier van Al Kaïda beskou, en is deur die VSA as verdagte leier van die aanvalle op Amerikaanse ambassades in Oos-Afrika in 1998 geïdentifiseer. Al-Libi het aansienlike steun onder die Libiese bevolking. Zeidan het enkele ure voor hy ontvoer is, nog gesprek gevoer met die familie van al-Libi.

Ná die Amerikaanse strooptog, was daar ‘n gewelddadige betoging deur radikale Moslems in die stad Benghazi. Radikale groepe het oproepe gedoen dat Amerikaanse burgers in Libië ontvoer word, en dat hul eiendomme geteiken word. Hoewel die Amerikaanse ambassadeur in Libië op die rooi tapyt verskyn het, het Libië beklemtoon dat die land sy vriendskapsbetrekkinge met die VSA volhou.

Hoewel die regering, wat na die val van die diktator Moammar Ghaddaifi aan bewind gekom het hard probeer om die groot verskeidenheid onafhanklike milisiegroepe in die amptelike gewapende magte en staatsdiens op te neem, is verskeie groepe nog aktief en tree hulle soms buite beheer op.

Volgens ander berigte is Zeidan nie ontvoer nie, maar weens ‘n deurmekaarspul in die administrasie van die departement van binnelandse sake gearresteer. Die algemene mening is egter dat hy wel ontvoer is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.