Presidensie kap Jansen oor Madiba-uitlatings

Prof Jonathan Jansen

Die presidensie het teruggekap na prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV), nadat hy glo beweer het dat die presidensie nie die waarheid praat rakende die gesondheid van oud-president Nelson Mandela nie.

“Dit is ʼn ernstige beskuldiging wat die integriteit van die presidensie in twyfel trek,” het Harold Maloka, woordvoerder van die presidensie in ʼn verklaring gesê. Jansen is aangehaal waar hy glo gesê het: “Elke keer as ons hoor hy (Mandela) is in die hospitaal, dan dink almal hier is dit nou, hy gaan hierdie keer sterf. Big Mac (in verwysing na Mac Maharaj, die presidensiële woordvoerder) lieg as hy sê Madiba is in die hospitaal vir roetine-toetse. Wanneer ʼn mens 94 is, gaan jy na ʼn hospitaal om te sterf, nie vir roetine-toetse nie.” Die presidensie sê hy neem aanstoot met die uitlating aangesien Jansen meen die presidensie lieg as hy sê Mandela gaan vir roetine-ondersoeke. “Prof. Jansen moet sy bewering bewys of dit terugtrek.”

Jansen is ook aangehaal waar hy glo gesê het hy wens Mandela wil tot sterwe kom. Jansen het egter later aan Jacaranda FM gesê hy is buite konteks aangehaal. “Sommige joernaliste vat soms lang sinne en verkort dit aansienlik en dan gaan die hele boodskap verlore. My toespraak se kruks was dat ek wens Madiba kan in vrede rus, sonder al die bohaai in die media oor hom,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Prof Jansen is te ‘n gerespekteerde en nugtere persoon om uitlatings te maak wat omstrede kan wees en ‘n verleentheid vir hom skep. Ek glo hy is verkeerd en totaal uit verband aangehaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.